Sunday, November 28, 2010

Hmm reën...

Het jy al ooit gedink hoe vervelig die lewe sou gewees het as dit nie af en toe gereën het nie? Dan sal daar nooit die bevredigende effek van daardie onbeskryflike lekker reuk wees nie. Jy ken die reuk... dit vul gewoonlik jou neusgate voor die reën en ook na die tyd.

En wat van die mooi reënboog daarna? Al weet ek dis net 'n lawwe storie, dink ek nogsteeds, elke keer as ek 'n reënboog sien, hoe dit sou wees om onderdeur te kon hardloop en... (jy ken die storie), of om die eerste een te wees om by die een punt uit te kom en die pot goud te kry. Dis die moeite werd om so nou en dan in jou eie fantasie wêreld te lewe, om net vir 'n oomblik (al weet niemand dit nie) weg te kom van die gewone dinge van die lewe. Ek dink baie keer dat dit ons fantasie wêrelde is wat ons gedagtes aan die gang sit om groter te droom... Wel, dis nou wat die reënboog alles aan my doen.

Al is dit net in my gedagtes, wil ek my verbeel dat alles weer vars en vrolik is na die reën en dan wil ek sommer daarby aansluit. Dit gee my weer nuwe hoop en laat my besef dat die lewe met elke sekond besig is om aan te gaan en dat ons altyd bedag moet wees om nie in tyd vasgevang te word nie, want dan gaan dinge by ons verby. Dis tyd wat jy in jou lewe nie weer sal kan terugkry nie. SO, MOENIE VASGEVANG WORD NIE (hehe!!).

Dit het vandag lekker gereën en die pannekoek daarby was ook uit die boonste rakke. Ek hoop jy geniet die reëndae ook so baie. Vir my is dit van baie waarde.

Lekker dag Waggie...

No comments:

Post a Comment